Nagraadse studie
Honneurs
’n Student met ’n aanvaarbare eksamenpunt in Afrikaans en Nederlands 3 kan met die toestemming van die Dekaan inskryf vir ’n Honneurskursus in óf Afrikaans óf Afrikaans en Nederlands. Die kandidaat kies, in oorleg met die betrokke dosente, vyf studie-onderwerpe uit ’n lys wat jaarliks van die Afdeling aangevra kan word. Die eksamen bestaan uit vyf vraestelle, waarvan een vervang mag word deur ’n indringende werkstuk (sowat 10 000 woorde) wat teen 30 September ingelewer moet word.
MA-kursus: Eksamen
In oorleg met die Afdeling kies goedgekeurde kandidate drie ondersoekterreine uit die Afrikaanse en/of Nederlandse literatuur, Taalkunde of Literatuurwetenskap vir intensiewe navorsing en bestudering. Gereelde seminare word aangebied, maar 'n hoë mate van selfstandige navorsing word van die kandidaat verwag. In elk van die drie studieterreine word ’n vraestel van 3 uur geskryf. Ook word daar van die kandidaat verwag om ’n kort verhandeling (sowat 30 000 woorde oor ’n goedgekeurde onderwerp) voor te lê. Die verhandeling moet binne 6 maande na die skryf van die drie vraestelle voltooi en ingelewer word. 60% van die totale eksamenpunt word aan die drie vraestelle saam toegesê, die res aan die verhandeling.
MA-kursus: Verhandeling
Ter verkryging van die MA-graad moet die kandidaat ’n verhandeling voorlê waarvan die onderwerp vooraf deur die Fakulteitsraad goedgekeur is, en wat die resultate van oorspronklike navorsing bevat. Die student sal ook bereid moet wees om n.a.v. die verhandeling ’n mondelinge eksamen in Afrikaans of in Afrikaans en Nederlands af te lê, indien dit nodig geag word.
Doktorsgraad
Inligting oor doktorale studie is verkrygbaar van die afdelingshoof.
