Rhodes University Logo
Rhodes > Community Engagement > Latest News

Menseketting vir eenheid kom

Date Released: Tue, 11 February 2014 14:40 +0200

PORT ELIZABETH. – ’n Menseketting teen verdeeldheid word vir Grahamstad beplan om wyle oudpres. Nelson Mandela se droom van gelykheid te eer.

Roger Domingo, direkteur van die Grahamstad-noodverligtingsorganisasie (Gadra), wat ook die mede­organiseerder van die Human Chain-geleentheid is, hoop dat duisende inwoners op 21 Februarie hande sal vat om die menseketting te vorm.

Die geleentheid word in samewerking met die Rhodes-Universiteit gehou.

Die hoop is dat sowat 5 000 mense in die strate sal vergader en hande vashou.

“Ons leef steeds in verdeelde gemeenskappe waar die verlede ons skei en ongelykheid nog bestaan, maar dit is juis die dinge waarteen Madiba baklei het,” het Domingo gesê.

“Ons kan saamstaan en sy droom van ’n gelyke gemeenskap nastreef.”

Die ketting sal deur die stad strek, met inwoners wat van die Joza- informele ­nedersetting tot in Somer­setstraat verbind sal word.

Diana Hornby, direkteur van gemeenskapsinskakeling by Rhodes en mede-organiseerder van die geleentheid, het gesê die ketting sal as ’n simbool van die toekoms dien.

“As Madiba en ons toekoms enigiets vir ons beteken, moet ons nadink oor hoe ons vorentoe gaan beweeg.

“Een manier is die menseketting-metode, waardeur ons ons rol in die bou van ’n nuwe gemeenskap in Grahamstad erken.”

Grahamstad se menseketting is deur ’n soortgelyke geleentheid geïnspireer, wat in Julie 2013 in Kaapstad gehou is.

Plaaslike kunstenaars en dansers is ook genooi om by verskeie punte in Gra­hamstad op te tree wanneer inwoners hande vat.

Source: Die Burger

 

Source:Die Burger