Rhodes University Logo
hello@example.com
  • hello@example.com
  • info@example.com
  • addAdd another account...
Rhodes > English Language and Linguistics > Latest News

Afrikaanse taalkunde in die kollig

Date Released: Sun, 3 July 2011 12:24 +0200

Afrikaanse taaldepartemente van verskeie Suid-Afrikaanse universiteite het 'n geleentheid geneem om hulle aan mekaar voor te stel op Woensday 29 Junie by die Interactions and Interfaces taalkundekonferensie wat by Rhodes University plaasgevind het.  Na die toesprake het Professor Wannie Carstens ’n voorstel vir ’n nuwe boek oor Afrikaanse taalkunde aan die paneel aangebied. Om die sessie te beëindig het die taalkundiges ’n debat oor Carstens se voorstel gevoer.

Unisa is die eerste universiteit wat aan die paneel voorgestel is. Hulle bied formele taalkunde aan in hulle tweede jaar asook in die derde jaar en in die nagraadse sertifikate. Daar word ook ’n dienskursus aangebied, maar dit word tot die eerste vlak beperk. Hierdie kursus word parallel met Engels aangebied. Diakroniese taalkunde is ook beskikbaar by hierdie universiteit. Daar word verder sinkroniese taalkunde op die eerste, derde en nagraadse vlakke by Unisa aangebied.

Volgende aan die woord was Adri Breed van die Noordwes Universiteit. Hulle het beskrywende modules in hulle kursusse. By hierdie universiteit werk die taal- en regsdepartement saam om ’n kursus in taalvardigheid in die regswêreld aan te bied. Adri bied ’n kursus in semantiek en ’n inleiding tot skryfvaardigheid aan. Sy het ook belowe om binnekort 'n kursus in sintaksis oor te neem. Haar kollega, Jako, bied ’n wyer spektrum van opleiding aan. Hy fokus meer op die joernalistieke kant van die taalkunde.

By die Universiteit van Johannesburg is daar vier personeellede in die departement. Hulle het ook ’n stabiele getal eerste jaar studente. Daar word vir hierdie studente ’n bietjie van alles oor taalkunde geleer. Daar word ook ’n dienskursus hier aan gebied. Die verdeling tussen letterkunde en taalkunde in die Afrikaanse departement is vyftig persent elk. Die struktuur van die opleiding is redelik formeel en tradisioneel. UJ se benadering is om terug te gaan na klassieke opleiding toe. Taalversorging is ook hier belangrik.

Stellenbosch is onder die genoemde universiteite die een met die meeste eerstejaar studente wat Afrikaans neem, maar daar is slegs twee personeellede wat met taalkunde handel. Daar is wel nog ’n persoon wat onder kontrak werk. Omtrent die helfte van die Afrikaans eerstejaar studente is onderwysstudente. Hulle word beide letterkunde en taalkunde in hulle eerste jaar geleer. Sintaksis word aan al die Afrikaanse tweede-jaars aangebied. Sosiolinguistiek is die mees deurlopende kursus in taalkunde by Stellenbosch. Die honneurskursus bevat slegs sosiolinguistiek. Daar word hier kursusse aangebied vir beide die moedertaal sprekers asook nie-moeder taal sprekers van Afrikaans. Verder is daar ook ’n kursus in Afrikaans vir diegene wat vreemde tale praat. Verder word daar ’n vertalings-kursus aangebied. Hierdie kursus word gebruik om swart studente na die departement te lok.

Die volgende universiteit wat voorgestel was, was die Universiteit van Pretoria, met net een taalkundige in die departement. Skryfvaardigheid is belangrik in hierdie departement. Taalkunde word ook hier gebruik vir die studente wat politiek studeer. In die derde jaar word die historiese aspek van taalkunde aan die studente geleer. Hierdie kursus is veral gewild vir onderwysopleiding. Die vertalingsaspek word vir die studente aangebied. Ongelukkig is daar tans geen studente in hierdie departement wat vir 'n MA of PhD studeer nie. Die departement hoop dat die getal studente van volgende jaar sal begin toeneem wanneer BEd studente by hulle aansluit.

Angelique van Niekerk van NMMU het volgende aan die paneel voorgestel. Hierdie universiteit bied beide taalkunde en letterkunde aan. Daar word ’n beginnerskursus elke semester aangebied. Elke semester is daar sowat twintig of dertig nuwe studente wat aansluit by hierdie kursus. Op die tweede-jaar vaardigheidsvlak is daar nog ’n kursus aangebied. Baie van die studente wat hierdie kursus doen is opvoedkunde studente en hulle is tweedetaal sprekers in Afrikaans. Basiese taalvaardigheid word dan ook vir die moedertaal sprekers in Afrikaans aangebied. Verder word tweede-jaar studente geleer van taalvariasie. Die swart en bruin studente geniet dit veral om te sien hoe hulle eie variasies inpas. Hierdie opleiding van variasie word verder geneem in die derde jaar. Op hierdie vlak leer die studente ook van taalgebruik in die politiek. Op honneursvlak is daar omtrent net vyf studente.

Laastens het die Universiteit van die Vrystaat ’n geleentheid gekry om oor hulle departement te praat. By hierdie universiteit is daar ’n groot getal kursusse wat aangebied word. Die kursusse strek oor ’n wye spektrum van dienskursusse tot en met Afrikaans en Nederlands wat in eerste jaar, tweede jaar en derde jaar aangebied word. Daar is verder kursusse vir nie-moedertaal sprekers. Hierdie kursus is gewild onder die onderwysstudente. Die rede hiervoor is dat hulle bang is om Nederlands saam met die Afrikaans te doen. Aan die begin van die jaar moet die studente ’n taalvaardigheidstoets doen. Indien hulle druip is dit verpligtend dat hulle die dienskursus loop. Daar is ook ’n kursus in “gesellige” Afrikaans wat aangebied word vir die internasionale studente.

Professor Carstens het toe aan die woord gekom om sy voorstel vir ’n nuwe boek oor die Afrikaanse taalkunde aan die paneel bekend te stel. Onder andere het hy gevra of dit beter is om ’n hele nuwe boek te skryf of om liewers 'n ou boek te hersien. Dit het gelei tot ’n debat oor twee alternatiewe menings. Van die mense op die paneel was van mening dat dit beter sou wees om ’n enkele boek te skryf, terwyl ander geglo het dat drie verskillende boeke beter sou dien. Aan die einde was daar nie ’n finale oplossing nie. Die paneel het wel daarop besluit dat die voorgestelde boek van uiterste belang sal wees vir Afrikaanse taalkunde. Hulle het ook saam gestem dat dit ’n groot probleem is dat die verskeie universiteite se kurrikulums nie altyd ooreenstem nie.

Artikel en foto deur Ju-ann Hockly

Source: