Die Boek Van Toeval en Toeverlaat - Ingrid Winterbach
Die Boek Van Toeval en Toeverlaat is Ingrid Winterbach se jongste, imposante roman wat soos Vladimir Nabokof se roman Ada 'n obsessie met woordspeletjies en assosiasies werk. Ene Helena Verbloem moet saam met Theo Verwey in 'n projek woorde opteken wat in onbruik geraak het. 'n Krisis onstaan wanneer haar skulpversameling gesteel word en sy saam met die polisie soek hierna. Hierdie soektog na die verlore goed vir die oppervlakte-verhaal wat by Winterbach altyd net 'n dieperliggende raaisel "verbloem". Die leser word dus 'n soort speurder in hierdie faux-speurverhaal waarin 'n mens gekonfronteer word met die belangrikheid van 'n kultuurhistoriese sisteem. Op 'n ironiese wyse lewer die roman kommentaar op die NALN-debakel en die argelose wyse waarop daar met ou dokumente omgegaan word in die nuwe-Suid-Afrika èn in welke mate ou, vergete Afrikaanse romans deel vorm van 'n kulturele geheue. Die roman is vir die speurende leser 'n behaaglike ervaring met verwysings na De Lillo, die skrywer van Underworld & Cosmopolis.
Een van die belangrikste en onderskatte aspekte van Ingrid Winterbach se werk is haar komplekse hantering van Freudiaanse psigoanalise. Die digter Marthinus Maritz se verhouding met sy moeder word gesinkopeer met 'n jeugherinnering wanneer die kind deur die pa uitgelag word. Die mede-reisiger Sof help interpreteer aan die banale wat Helena Verbloem oorspoel. Die gids hier aktiveer vanselfsprekend Sewe dae by die Silbersteins en ook Dante. In hierdie roman word daar nie klarigheid gevind nie. Die raaisel word nie opgelos nie en raaisels - soos wat ons weet uit Freud se lesing van die Oedipus-verhaal - bring dalk ontknoping, maar terselfdertyd pynlike insigte.
Daar is makabere humor in hierdie roman wat geskryf is deur 'n skrywer met 'n sekere, vaste hand. Bekend aan Winterbach is haar eiesoortige en bykans boertige naamgewing; Jaykie, Alverine, Hugo Hattingh, Matroos, Frans...
Op 'n dieper vlak word die leser bewus gemaak van ewolusie en die mens se uitgelewerdheid aan gróter kragte.
Dit is nie net 'n boek van toeval en toeverlaat nie, maar ook een van vergissing en verloëning. Dit is 'n roman wat kommentaar lewer op dit wat verlore is (dalk alreeds) en die jonge Helena se melancholiese reaksie op die ou boereliedjie, "Wat maak oom Kallie daar", reverbereer in die teks. Ook dit vra om 'n lesing van Freud oor melancholie.
Winterbach skryf 'n soort outydse Afrikaans, net soos haar model Etienne Leroux wat nie in 'n maklik-toeganklike Afrikaans geskryf het nie. Die leser staan dan dikwels stil by 'n bepaalde sin wat jou dwing om 'n metaforiese eerder as metonimiese lesing te maak. Dit is dus 'n soort romankuns wat poëties gestruktureer is, nes die romankuns van James Joyce wat sy verhale op sowel linguisties-uitdagende modele as mitologiese verwysingsisteme gebou het.
Dikwels word uitinge herhaal - wat eweneens 'n Freudiaanse herhalingsdrif signifieer as 'n soort sirkelgang. By Nabokof is daar weer dikwels 'n labirint waarin die leser sig bevind.
Hierdie skrywer is tereg bekroon met die Hertzogprys vir haar roman Niggie en die meer toeganklike Karolina Ferreira het die M-Net-prys verower.
My volledige bespreking staan op Litnet www.litnet.co.za/seminaarkamer
