Rhodes University Logo
Rhodes > Afrikaans and Netherlandic Studies > Voorgraadse Kursusse

Voorgraadse Kursusse

Ons belig deur ons kurrikulum Afrikaans as veranderende, lewendige taal – dis ‘n praattaal, ‘n letterkunde taal en ‘n wetenskapstaal waar wetenskaplike navorsing steeds in Afrikaans gepubliseer word. Op praktiese vlak, ontwikkel letterkundeonderrig waardevolle vaardighede, sowel as kritiese denke in studente.  Dit behels leesdinkbespreek en skryf.  Dit verbreed jou woordeskat en verbale sensitiwiteit en sofistikasie.  Teksanalise leer mens om krities te lees en dit leer weer die student op sy beurt om ander tekste ook krities te kan bestudeer.

 

Afrikaans 1

Ons 1ste jaars kurrikulum is vars en innoverend en bied ‘n basiskennis van die Afrikaanse letterkunde en ‘n oorsig van die ontstaan van Afrikaans.  Elke semester bestaan uit 4 modules.  Elke module word gedek in ‘n lesing per week, plus 1 groepklas.

 

EERSTE SEMESTER 2017

1.  Wat’s jou storie ? Inleiding tot die Afrikaanse Prosa (Me. Marsha Barnes)

Hoe word die verbeelding ingespan om agter die waarheid van menswees te kom? Wat wil die storie vir ons sê?  Ons kyk hier na die vroeër prosatekste van Afrikaans en ook na daardie skrywers wat ‘n sentrale rol gespeel het in die skepping van die vroegste Afrikaanse prosa.

 

2.  Wie’s jou Pappa ? Inleiding tot die Afrikaanse Poësie (Me. Marsha Barnes)

Wat het oorloë en voortrekkerkappies met poësie te doen?

In hierdie module word daar gefokus op vroeëre bekende Afrikaanse poësie en ook op die posisie van kenmerkende digters binne die kanon.

 

3.  Die Afrikaanse Film : Deel 1 (Dr. Ilse de Korte)

Storievertel in prentjies kan teruggevoer word na grotmense en in Suidelike Afrika, na die Boesmans wat verhale op klippe en teen rotswande geteken het.  Maar, daardie prentjies het stilgestaan en iewers was die begeerte om hierdie prentjies te laat beweeg.  Om alles te kroon, is Suid-Afrika se filmbedryf een van die oudstes ter wêreld!  Die Afrikaanse filmbedryf is egter ‘n totaal onderontginde veld binne die literêre sisteem. In hierdie module gaan ons die komplekse sosiopolitieke  aspekte van die SA geskiedenis ondersoek wat ‘n belangrike rol in die geskiedenis van die rolprentbedryf gespeel het en hoe die bedryf verander het van toeka tot nou.

 

4.  Waar kom ons vandaan ?  (Dr. Ilse de Korte)

Afrikaans het ontstaan uit die mengelmoes rasse, tale en nasies wat aan die puntjie van Afrika in ’n kultuurpot saamgegooi is. Afrikaans se verhaal begin in 1652 met die aankoms van die Hollanders aan die Kaap.  Maar, dis beslis nie net daardie Hollanders wat Afrikaans ‘gemaak’ het nie!  Daar is twee ander belangrike groepe wat ’n bydrae gelewer het: die slawe en die Khoi. Afrikaans se wortels lê dus beide binne en buite Suid-Afrika en is werklik die taal van die mense.

In hierdie module word die onstaan en agtergrond van Afrikaans bekyk.  Vandag is Afrikaans die derde grootste taal in Suid-Afrika, so wie het eerste ‘baie dankie’ gesê ?  Hoekom weet die Nederlanders nie wat ‘n ‘beursie’ is as ons dan so baie soos Nederlands klink?   Al hierdie brokkies en meer gaan ondersoek word.

 

TWEEDE SEMESTER 2017

1.  Populêre Fiksie (Dr. Ilse de Korte)

Voorheen as mens van genre gepraat het, was dit altyd die drie grotes: poësie, prosa en drama.  Maar, die afgelope tyd kry voorheen minder geskatte genres baie meer aandag.  Misdaadfiksie, chick-lit, romantiese fiksie, historiese fiksie en vele meer word gelees en selfs bestudeer.  “Ligter” en gewoonlik geignoreerde genres gaan in hierdie module bekyk word, die waarde daarvan as ontspanningsliteratuur en as katarsis, asook die skryf van en in hierdie genres.

 

2.  Liriek as poësie (Me. Marsha Barnes)

Ons kyk na alles Afrikaans – Pop! Rock! Folk-en-kontemporêre musiek! Daar word gekyk na hoe musiek as “literêre” teks bestudeer kan word. Verder word daar gekyk na hoe Afrikaanse musiek deur sosiopolitieke kwessies beïnvloed word en op sy beurt kommentaar lewer op die samelewing.

 

3.  Die Afrikaanse Film: Deel 2 (Dr. Ilse de Korte)

Hierdie module is ’n opvolg van die module in die eerste semester.  Ons het begin deur te kyk na die geskiedenis van die Afrikaanse filmbedryf en die verskillende invloede op hierdie bedryf.  Nou gaan ons ’n bietjie fliek! 

 

4.  Wie praat wat? (Me. Marsha Barnes)

‘n Studie van gebruiksvariasies van Afrikaans – ‘n Ondersoek van hoe Afrikaans as taal op verskeie maniere gepraat en toegespas word in verskillende kontekste.

 

Voorgeskrewe tekste vir Afrikaans 1

Nerina Bosman en W.A.M. Carstens, Kontemporêre Afrikaanse Taalkunde

Groot Verseboek, Deel 1

Abraham de Vries, Die Afrikaanse Kortverhaalboek

 

Afrikaans en Nederlands 2

Studente wat Afrikaans 1 geslaag het, word toegelaat om vir Afrikaans en Nederlands 2 in te skryf. In die tweede jaar bou ons aan jou grondige kennis van Afrikaans en stel jou voor aan Nederlandse letterkunde.  Ons kyk na verskillende literêre strominge en konsepte aan die hand van verskeie letterkundige tekste.

 

EERSTE SEMESTER 2017

1.  Afr. Prosa: Die jare 80 (Dr. Ilse de Korte)

Die Afrikaanse kortverhaal van die Tagtigs word ondersoek.  Daar word gekyk na die Tagtiger beweging waarna die vraag gestel kan word: was daar ’n Tagtigerbeweging?  Wat bepaal ’n beweging?  Verhale en essays van Ettienne van Heerden, Etienne Leroux, Elize Botha en André Letoit sal gebruik word.  Teoreties is die periode gekenmerk deur die post-modernisme.  Tekste sal voorsien word. 

 

2.  Afr. Poësie: Modernisme (Dr. Ilse de Korte)

In hierdie module word N.P. van Wyk Louw en Wilma Stockenström se  poësie bekyk vanuit ’n Modernistiese perspektief.

 

3.  Ndl. Prosa: Migrant en ontheemding (Me. Marsha Barnes)

Studente word voorgestel aan die werk van Tip Marugg en al die fassinerende temas wat deur die Nederlands-Curaçaoan skrywer in sy tekste ondersoek word.

 

4.  Lipstiffie en Satire: Die eksentriese teks vanKabaret (Me. Marsha Barnes)

In hierdie module word daar gekyk na die ontstaan en ontwikkeling van Afrikaanse kabaret – Ons kabarettiste - Nataniël, Pieter Dirk Uys, Aucamp, Elsabe Zietsman ens. en hul kreatiewe, komiese en belangrike bydrae tot Afrikaanse kabaret word in diepte ondersoek.

 

TWEEDE SEMESTER 2017

1.  Tekstuele avonture van die Afr. Prosa (Me. Marsha Barnes)

Ons neem ‘n reis deur Afrikaanse kortverhale.  Daar word gefokus op die sentrale rol van die reismotief en reisverhaal in die Afrikaans letterkunde.

 

2.  Afr. Poësie: Post-modernisme (Dr. Ilse de Korte)

In hierdie module val die fokus grotendeels op D.J. Opperman se Komas uit ’n Bamboesstok.  Stylfigure van die post-modernise word ondersoek aan die hand van gedigte – parodie, intertekstualiteit en dekonstruksie.

 

3.  Ndl. Poësie: ‘n Digterlike landskap (Dr. Ilse de Korte)

Daar is vele gedigte wat handel oor die mens se verhouding met die natuur en die omgewing waarin hulle hulself bevind.  Beskrywings van die landskap is nie altyd net die ruimte daar buite nie, maar die gedig weerspieël ook soms die innerlike ruimte van die digter self.  In hierdie module kyk ons na gedigte wat hierdie verhouding tussen mens en natuur ondersoek, nie net die natuur se impak op die mens nie, maar wedersyds ook die mens se impak op die natuur.

 

4.  Jeugliteratuur (Me. Marsha Barnes)

Wat is jeugliteratuur?  Is dit tekste geskryf vir kinders of deur kinders?   Studente maak kennis met die jeugverhaal en wat presies jeugliteratuur is.  Hoe raak dit die jeugdige en wat is die rol wat dit speel in die kontemporêre Afrikaanse letterkunde. Hoe spreek die jeugverhaal alledaagse kwessies aan?

 

Voorgeskrewe tekste vir Afrikaans en Nederlands 2

Groot Verseboek, Deel 1

Abraham de Vries, Die Afrikaanse Kortverhaalboek

Anushka von Meck, Vasselientjie

 

Afrikaans en Nederlands 3

Studente wat Afrikaans en Nederlands 2 geslaag het, word toegelaat om met Afrikaans en Nederlands 3 voort te gaan. In die 3de jaar rond ons jou kennis van die Afrikaans en Nederlandse letterkunde af.  Ons delf hier bietjie in die psigoanalise in. maak ‘n Kaapse draai in die poësie en stel jou bekend aan die wonderlike wêreld van die Afrikaanse drama.

 

EERSTE SEMESTER 2017

1.  Prosa:  (Dr. Ilse de Korte)

“As die mens net meer genade het met mekaar, sal die lewe langer duur.” Nijinski

Ons bekyk die fassinerende skrywer, Hennie Aucamp se bundel, Volmink.  Die titel bring die teenstrydige konsepte van “volmaak” en “vermink” saam in een word.  Die gestroopte mens wat sy emosionele naaktheid ontbloot moet met deernis en genade behandel word, want ons almal is iewers tussen volmaak en vermink. 

 

2.  Poësie: Psigoanalise (Jonker en Breytenb.)(MB)

In hierdie module word daar ‘n psigoanalitiese benadering toegespas op die digkuns van Ingrid Jonker en Breyten Breytenbach. Daar word verder gekyk na die belangrike posisie van hierdie twee kenmerkende digters binne die kanon.

 

3.  Ndl. Prosa: Henk van Woerden se “Kaapse Trilogie” (IdK)

Hierdie semester behandel ons Henk van Woerden se “Kaapse trilogie” wat bestaan uit Moenie kyk nie (1993), Tikoes (1996) en Een mond vol glas (1998).  Dit is die beelde van die skrywer se persoonlike ervarings as immigrant uit Nederland in hierdie land. Dit gaan oor die worsteling om ‘n tuiste te soek, sowel as die gespletenheid van ‘n land soos Suid-Afrika tussne skoonheid en geweld.  Die konsepte wat ondersoek gaan word is hibriditeit, bekentenisliteratuur, vreemdelingskap en identiteit.

 

4.  Afrikaanse Drama tot 2000: Small, de Wet (MB)

Die Afrikaanse drama vertoon na 1967 vir die eerste keer tekens van lewe.  Hierdie vernuwing word egter bedreig deur sensuurwette en staatssubsidies.  In hierdie kurses word die Afrikaanse dramas van Reza de Wet en Adam Small verken, twee kenmerkende skrywers wie se tekste hierdie genre beïnvloed. 

 

TWEEDE SEMESTER 2017

1.  Die verlede is ’n ander land: Geskiedenis as teks (Dr. Ilse de Korte)

Van ouds af, vertel die mens stories.  Stories oor hulself en stories oor hul verlede.  Geskiedenis is maar net nog ‘n storie.  Hier kyk ons na opgemaakte stories oor regte mense of regte stories oor opgemaakte mense.  In hierdie module gaan ons kyk na hoe die verlede in die teks gestalte kry.  Hoe word daar fiktief oor werklike geskiedkundige gebeure geskryf, hoe onthou die mens, wat is herinnering en is herinnering so eenvoudig soos dit voorkom?

 

2.  Poësie: ‘n Kaapse draai (Me. Marsha Barnes)

In hierdie module neem ons ’n Kaapse draai en kyk na die poësie wat in AfriKaaps geskryf is, asook na die digters wat graag hierdie dialek kies vir hul digkuns – Ronelda Kamfer, Adam Small, Peter Snyders ens.  Wat maak Kaapse verse so besonders?  Deel hierdie verse soorgelyke temas?

 

3.  Ndl. Poësie: 1945 – 1980 (Dr. Ilse de Korte)

Na die Tweede wêreldoorlog in Europa het daar ’n gevoel van sinloosheid op die mense neergedaal.  Dit het die ruimte geskep vir bewegings soos die eksistensialisme.  In hierdie module kyk ons na ’n paar van die –ismes van die dekades na die oorlog.  Na ’n periode van politieke en sosiale omwenteling, kan ons dalk raakpunte sien met Suid-Afrika vandag?

 

4.  Afr. Drama 2000 tot vandag: Kapp, Anker (Me. Marsha Barnes)

Die nuwe millenium bring ’n nuwe verhoog vir die Afrikaanse drama.  Die landskap van teater lyk nou anders as tevore.  Kunstefeeste skep nuwe opvoerruimtes en interessante nuwe, jong stemme tree na vore.  In hierdie module ondersoek ons die dramas van Tertius Kapp en Willem Anker.

 

Voorgeskrewe tekste vir Afrikaans en Nederlands 3

Tertius Kapp, Rooiland en Oorsee

Willem Anker, Samsa-masjien en Skrapnel

Karel Schoeman, Verliesfontein

Ingrid Winterbach, Niggie

 

Last Modified :Wed, 29 Mar 2017 12:27:00 SAST