Rhodes University Logo

Forum: ANC op afdraande pad

Rhodes>Richard Pithouse>Latest News

Terwyl die opvatting dat pres. Jacob Zuma “ ’n klein man in ’n groot huis” is, vinnig versprei en die ANC se morele gesag taan, is die groot vraag wat uit hierdie algemene ontevredenheid kan voortspruit. Dit sou naïef wees om te dink die ANC gaan hierdie neiging met grasie aanvaar, skryf Richard Pithouse.

Die ANC was lank tot die heiligmaking van sy gesag in staat deurdat hy hom op die sleutelgebeure, -idees en -persoonlikhede van die struggle beroep het, byna soos die Katolieke die stasies van die Kruisweg resiteer.

Ons het egter nou die punt bereik waar die mag van daardie politieke liturgie om te inspireer en te dissiplineer in ’n vryval is. Begunstiging en onderdrukking het ’n gedeelte van die newe-effekte beperk. Maar ondanks die gebruik van geld en mag om die party se gesag te stut, duik nuwe dwaallere – sommige in die vorm van nuwe organisasies – oral op.

Die party se hoof-dwaalleerjagters, soos Blade Nzimande en S’dumo Dlamini, lyk dikwels soos belaglike grootpraters in die aangesig van die toenemende afstand tussen die idee van die ANC en die werklikheid van die ANC. Hulle mag egter nie afgelag word nie. Hul stem kom immers van binne die staat en van agter sy talle vestings, waaronder sy verskillende soorte militêre mag. Hierdie is ’n tydstip wat net soveel gevaar inhou soos wat dit ’n geleentheid bied.

Laat verlede jaar het sommige in die binnekring beweer die ANC het ’n plan om die skade te beperk wat Jacob Zuma se presidentskap aan die stembus-steun vir die party veroorsaak. Die plan was volgens hulle om op die golf van openbare hartseer weens die afsterwe van Nelson Mandela te ry na ’n verkiesing wat waarskynlik op die 20ste herdenking van ons eerste demokratiese samelewing gehou sal word.

Die idee was dat die kombinasie van die rou vir Mandela en die viering van 20 jaar van demokrasie die ANC ’n ware kans sou gun om óf van die steun terug te wen wat hy die laaste jare afgestaan het, óf ten minste sy afname in steun by die stembus te verlangsaam.

Maar Mandela se dood het ons herinner aan ’n gedeelde bewustheid van ons edelste kollektiewe strewes. In die lig van daardie bewustheid het die korrupsie, politieke boewery en algehele gebrek aan ’n geloofwaardige nasionale visie by die ANC dié party – en veral sy leier – meer na verraaiers van Mandela se nalatenskap as voortsetters daarvan laat lyk.

As die ANC aangeneem het Mandela se glans sou ’n nuwe lig op hom werp, moet die wyse waarop Zuma in Johannesburg uitgejou en op ’n wêreldverhoog verneder is, ’n onaangename skok gewees het.

Maar dit was nie die eerste keer dat die ANC se geskiedenis en simbole teen hom gebruik is nie.

’n Beroep om lojaliteit aan Mandela is gedoen toe die Abahlali ba­se­Mjo­ndo­lo in 2005 buite die ANC begin organiseer het. Julius Malema benadruk nou al ’n paar jaar sy lojaliteit aan die Vryheidsmanifes om legitimiteit aan sy afvalligheid te verleen. En dit was met die veldtog ter ondersteuning van Zuma dat die taktiek om leiers in die openbaar uit te jou om gevegte binne die party te besleg bekend gestel is.

Die uitjouery in Johannesburg blyk nie heeltemal ’n streekanomalie te wees soos beeldpoetsers dit wil voorhou nie. Die dag voor Mandela se roudiens het die Abahlali base­Mjondolo in Mandela se naam ’n optog teen die ANC in Durban gehou.

Op die dag van Mandela se begrafnis het die gehoorlede in die Rainbow-restaurant in Pinetown, ’n jazzklub wat in die laat tagtiger- en die negentigerjare die kulturele hart van die stryd teen apartheid was, hul steun luid toegesê aan ’n opmerking van die verhoog dat Zuma “ ’n klein man in ’n groot huis” is. Op die groot Nuwejaarsparty in die stad is foto’s van Zuma op ’n groot skerm uitgejou. Op Nuwejaarsdag het strandgangers op minstens een Durbanse strand entoesiasties geboe toe ’n helikopter met ’n reusevlag met Zuma se gesig op al langs die kuslyn gevlieg het.

Pogings om buite die ANC se geskiedenis en simbole te organiseer het lanklaas werklik algemene steun uitgelok. Maar noudat die ANC se geskiedenis en simbole links en regs toegeëien word, het juis die komponent van sy steun wat nie van begunstiging en dwang afhang nie, ook sy achilleshiel geword.

Pogings om die party opnuut met die ideale van die verlede te assosieer deur idees soos “Zuma se Lula-oomblik” of “die tweede oorgang” het nie gewerk nie en gaan nie werk nie, bloot omdat hulle nie geloofwaardig is gegewe die huidige realiteit van die party nie. En van buite lyk dit of dit nie vir die ANC moontlik is om Zuma te terug te roep, sy trawante te verwyder en die party tot ’n geloofwaardige stel doelwitte en praktyke te verbind nie.

Dit alles beteken die ANC is op pad na ’n verkiesing waarin sy oorwinning wel verseker is, maar so ook dat sy steun by die stembus én sy morele gesag sal kwyn. Ná Marikana, die politieke sluipmoorde in Durban, die geheimhoudingswetsontwerp, die openlike onderwerping van die SAUK aan die gesag van die regerende party en die pogings om Thuli Madonsela te intimideer, sou dit naïef wees om te aanvaar dat die ANC hierdie kwyning met grasie sal aanvaar.

Ook is dit moontlik dat die party hom tot outokratiese eerder as demokratiese vorme van populisme sal wend as hy ernstig bedreig voel.

Daar is geen waarborge dat alternatiewe tot die ANC by die stembus die visie of vermoë sal ontwikkel om ons probleme op te los nie. Tegelyk bly die burgerlike gemeenskap ’n grootliks elitistiese projek en word die paternalisme wat dikwels in hierdie sektor teenwoordig is, dikwels as rassisties afgemaak. Boonop probeer die ANC die howe inperk en is hy selfs bereid om hulle eenvoudig te ignoreer. Ofskoon uitsonderlike algemene mobilisasie plaasvind, het selfs die sterkste vorme van populêre organisasie buite die ANC nie naastenby ’n nasionale reikwydte nie.

Suid-Afrikaners volhard in hul verwerping van die gesag van ’n toenemend korrupte en wrede regering. Hierdie verwerping is geopenbaar in alles van Zuma se internasionale vernedering by Mandela se roudiens tot die versplintering van Cosatu se gesag, stakings, padversperrings en grondbesettings.

Maar al kan ons hieruit moed skep, is daar geen waarborg oor presies wat uit die toenemend algemene ontevredenheid binne en buite die ANC kan voortspruit nie.

Nogtans is dit duidelik dat indien ons ’n nuwe, inklusiewe visie vir ’n regverdige en ordentlike gemeenskap wil skep en die organisasies en instellings wil ontwikkel om dit te verwesenlik, dié proses óf uit hierdie ontevredenheid sal moet ontstaan óf op die heel minste duidelik daaraan uiting sal moet gee.

En ná Mandela se dood is dit ewe duidelik dat die lojaliteit van soveel mense aan die hoogste ideale wat uit die struggle vir ’n ordentlike gemeenskap voortgespruit het, ’n kragtige hulpmiddel bly (al is dit meer moreel as organisatories) om die pad vorentoe te navigeer. • Hierdie artikel is deur die South African Civil Society Information Service (SACSIS) beskikbaar gemaak.

By: RICHARD PITHOUSE

Pithouse doseer politiek aan die Rhodes-universiteit in Grahamstad.

Foto Opskrif: ANC-veiligheidswagte konfronteer oproerige lede van dié party wat pres. Jacob Zuma in 2012 by sy ANC-eeufeeslesing in Kaapstad uitgejou het. Foto: EDREA CLOETE

Article Source: http://www.beeld.com/opinie/2014-01-11-forum-anc-op-afdraande-pad