Swygsame Buckland sê meer met lyf as woorde

Twee stories gelyktydig vertel.

Stel jou voor dat jy tien dae lank nie mag praat nie. As jy boonop daarop uit is om inligting uit iemand te kry, is dit ’n nog meer gedugte taak.

Dít is die gegewe van Andrew Buckland se jongste stuk, Laugh the Buffalo, wat eersdaags in die Baxter-ateljeeteater in Rondebosch geopen word.

Die stuk gaan oor ’n agent in die geheimediens wat ’n mens wat geheime uitlap, moet soek. Ter wille van staatsveiligheid moet hy opgespoor word. Die verdagte kruip weg in ’n oord waar hy mediteer en tien dae lank nie mag praat nie.

Die agent sluit hom ook hier aan en moet tussen al die swyendes probeer uitvind wie die verdagte is en hom vir goed stilmaak.

Ongelukkig is die agent nie baie slim nie. Dan daag die buffelgod ook op, wat sake bemoeilik. Eers wanneer daar op die laaste dag gepraat mag word, kry hy die geleentheid om ’n vraag te stel wat alles verander.

Die stuk is weer eens ’n kombinasie van komedie en politieke satire aangebied met fisieke teater, soms hansworsery en mimiek.

Die idee dat daar nie gepraat hoef te word om te kommunikeer nie, is vir Buckland nie vreemd nie.

Hy is per slot van rekening bekend daarvoor dat hy deur fisieke beweging net soveel kan sê as deur woorde.

Hy vertel dat hyself ook onlangs op ’n soortgelyke manier tien dae lank gemediteer het sonder om ’n woord te praat.

“Ek het dit baie interessant en stimulerend gevind. Dit was ’n gestruktureerde program wat jou tien uur per dag besig gehou het. Dit was fassinerend en baie uitputtend. ”

Sy vrou, Janet Buckland, wat ook die regisseur van die stuk is, vind die idee om so sonder gesels deur tien dae te gaan, nie so aanloklik nie, vertel hy.

Gehore hoef egter nie te vrees dat hulle niks gaan verstaan nie.

“Daar is wel teks en interne dialoog word gevoer. Twee stories word gelyktydig vertel,” verduidelik hy. “Die een het te doen met die mitologie van die buffelgod en die ander die storie wat gaan oor mense en sake wat hulle interesseer en bekommer.”

Hy meen dat mense wat sy werk ken, hopelik vordering in sy aanbiedingstyl sal opmerk.

“Ek is nou ouer en slimmer en hopelik sal dit wys.”

Nie dat Buckland voorheen moes sukkel om gehore te vermaak nie. Hy het vanjaar ’n Standing Ovation-prys op die Nasionale Kunstefees op Grahamstad gekry vir sy jarelange bydrae tot die teaterbedryf.

Hy was in twee stu

kke op vanjaar se fees te sien, naamlik Hoss (vir die geselskap Ubom!) en Crazy in Love (vir Conspiracy of Clowns).

Onder sy vererings tel drie Scotsman Fringe First-pryse van die Edinburg-fees in Skotland, ’n Standard Bank Jong Kunstenaar-prys en verskeie Fleur du Cap-, Naledi- en Vita-toekennings.

Hy was ook lid van die Cirque du Soleil as Sgt. Pepper in die produksie Love.

Hy is sedert 1980 verbonde aan die dramadepartement van die Rhodes-universiteit en hy is tans medeprofessor.

Hy was laas in 2010 op die verhoog in die Baxter toe hy drie van sy werke aangebied het.

Laugh the Buffalo is van 16 Oktober tot 30 November om 20:15 in die Baxter-ateljee. Bespreek by Computicket.

By: MARIANA MALAN

Source: Die Burger